Sound | Lighting | Stage | AV | Recording | Entertainment

Arri Opperman

2.jpg
Daar is min eietydse kunstenaars wat die titel “wonderkind” met trots kan dra. Die Pretoriase sanger en liedjieskrywer Arri Opperman mag maar! “Ek het begin sing toe ek so drie jaar oud was. Dit was in die kerk en ek het skaars begin sing, toe skree iemand in die kerk: ‘Ons kan hom nie sien nie!’ Ek moes toe die res van die liedjie op ‘n stoel klaarmaak.”

Vandag het Arri nie meer die stoel nodig nie, en nog minder dat enigiemand hom moet raaksien. Hy het al vir van Afrikaans se grootste musieksterre liedjies geskryf en debuteer nou as popster met ‘n volwaardige album van treffers uit sy eie pen – Deurskynend.

Sy Midas-aanraking as dit by musiek en liriek kom, was al in 2009 sigbaar toe hy die Huisgenoot Tempo-leserskeuseprys gewen het vir Dink aan my, wat deur Andriette Norman opgeneem is. Intussen het hy ook Goud en silwer vir Gerhard Steyn geskryf, Stukkie van jou hart (die titelsnit van Arno Jordaan se nuwe album) en Iemand om vas te hou vir Helenè Bester.

Deurskynend is ‘n hoë-oktaan-popdansalbum met meesal Afrikaanse liedjies, hoewel Arri ewe gemaklik in Engels is. Die album sluit ook drie cover versions in – Aerosmith se I Don’t Want To Miss A Thing, Bon Jovi se It’s My Life en Bad Boys Blue se prettige Queen of Hearts. Daar is ook ‘n Engelse duet met Chrizaan, A Little Bit Closer, wat een van Arri se gunstelinge is. Hy is ook gek oor ‘n Oproep weg. “Dit is een van die laaste liedjies wat ek vir my album geskryf het en dit het vir my die meeste waarde, want dit is vir iemand baie spesiaal in my lewe geskryf.”

Arri glo hy het reeds met geboorte sy besonderse liefde vir musiek gehad. “My ma het nog van die eerste liedjies wat ek geskryf het, gebêre. Ek kan tot vandag toe nie uitmaak wat daar staan nie. Op daardie stadium kon ek net my naam skryf, so die res was ‘n groot gekrabbel, maar ek was vas oortuig dis ‘n nuwe lied daai.”

Tussen die klavier en kitaar voel hy heel gemaklik as sanger en liedjieskrywer en “werk dit lekker om nuwe liedjies te bou en te kan toonset”. Hy was agt jaar oud toe hy sy eerste geestelike album opgeneem het, maar het eers ‘n bietjie later in sy lewe leer kitaar speel. “Ek is ‘n lefty, so ek speel anders as ‘n mens normaalweg sou speel. Dis vir my lekker om op ‘n show net die kitaar te vat en lekker saam te speel.”

Vir Arri is Deurskynend ‘n “up-tempo saamsing-album”. “Maar ek is mal oor liedjies wat met die hart praat, so ek het drie stadige, hartroerende liedjies geskryf om net ‘n ander kant van myself te wys. As jy goed voel na jy my album geluister het, het ek die regte tema en gevoel beet.”

Arri Opperman is ‘n skatkis van skitterende talent wat soos ‘n wafferse verkleurmannetjie gemaklik as sanger én liedjieskrywer verskillende popmusiek-wêrelde kan betree. Deurskynend knetter nie net van die klankvuurwerk nie, maar ook van ‘n kraakvars oorspronklikheid wat dit ‘n absolute moet­-hê-album maak!
Rate this listing
★★★★★
1 vote

Listing Details

Need help? Complete the form and we will contact you.







 
"Your Partner in World Class
Event Experiences"

Our services include:
- Sound & Lighting Hire
- Stage design
- Artist Management
- Recording Studio
- Audio Visual
- Backline